Dit is altyd wys om dinge versigtig te oorweeg – met ‘n knippie sout. In die laaste paar weke is daar ‘n nuwe (en omstrede) teorie dat COVID en verwante medikasies eintlik slanggif is en dat die drinkwater besoedel is daarmee. Die teorie word aangevoer deur ‘n Amerikaanse chiropraktisyn met die naam van Dr. Bryan Ardis.
Uit ‘n mediese oogpunt het Dr. Pierre Kory wesenlike probleme met hierdie teorie – sy kommentaar is ‘n genoegsame weerlegging.
‘n Halwe waarheid is ‘n definisie van ‘n leuen (Gen 3:1-7). Baie van wat Ardis sê is gedeeltelik waar tot op ‘n punt (soos dat Remdesivir gevaarlik is), maar dan verbind hy dit met onlogiese spronge – gebaseer op ongegronde afleidings om so ‘n onbewyste teorie te vorm.
Maar, buiten Dr. Pierre Kory se kommentaar, is daar is ook ‘n paar kwelvrae wat by gelowiges moet opkom:
- In die aanbieding word daar die heeltyd gesinspeel op ‘n christelikheid en die duiwel, die slang van ouds – maar tog huiwer Ardis nie om die Here se naam ydellik te gebruik nie, en Peters sien geen rede om die Godslasterlike taal uit sy program te sny nie.
- Hoekom maak Bryan Ardis of die Here deur mistieke heidense “fortune cookies” met hom praat? Die Skrif is tog finaal, volledig en genoegsaam (2 Tim 3:16-17; 1 Kor 4:6; Openb 22:18-19).
- Hoekom Stew Peters en Bryan Ardis se aanbieding so gedramatiseerd, manipulerend en sensasionlisties van aard is? Die dramatiese musiek, die afwagting, die gehuil aan die begin – hoekom nie net die bewyse nie?
- Ardis speel woord definisie speletjies – eers spekuleer hy of slanggif op een of ander manier verwant is aan die Rooms Katolieke Pous. Dit is wel waar dat elke pous, soos almal, ‘n moontlike antichris is (WCF Art 25.6), maar dan los Ardis eweskielik hierdie geforseerde teorie om ‘n ander woordspeletjie teorie te aanvaar wat by sy vooropgestelde storielyn inpas – dat dit na slanggif verwys en dat dit nou in die water versprei word.
- Hoe kan basies al die drinkwater in die hele wêreld met slanggif besoedel word? Dit vat nogals baie slanggif en ‘n baie groot logiestieke operasie.
- As dit slanggif is, hoekom word kinders dan nie so siek nie?
Daar mag dalk nog onthullings uitkom oor die laboratorium oorspong van die sg. COVID virus. Dit is ‘n teoretiese moontlikheid dat daar ander diere of parasiete se gifstowwe in die Biolabs gebruik was, maar om dit wêreldwyd in die drinkwater te sit is nog nie bewys nie.